Heilige Graal

'n Verskyning van die Heilige Graal (Frankryk, 15de eeu)

Die Heilige Graal (van Oudfrans graal "skottel") is een van die bekendste mites van die Westerse geskiedenis en letterkunde wat die soektog na 'n baie begeerlike voorwerp beskryf.[1] Die vroegste bronne van die Graal-tematiek is waarskynlik nie van Christelike oorsprong nie. Die graalslegendes is blykbaar verwerkings van ou Keltiese motiewe uit die Mabinogion, soos byvoorbeeld koning Artus se reis na die ketel van Annwn. Die Graal-tematiek vermeng moontlik kenmerke van ou vrugbaarheidskulte, Keltiese mites waarin horings of ketels van oorvloed sentraal staan, en Christelike motiewe en simboliek.

Die Heilige Graal is aanvanklik as 'n steen, 'n boek of 'n standbeeld voorgestel. Later word dit as 'n kelk, 'n bord of as 'n ketel beskryf. In die eerste verwerking in die Middeleeuse literatuur van die laat 12de eeu toon die Graalslegendes sterk Christelik invloede; die Graal word nou onder meer as die mitiese jaspisbeker beskou wat Jesus Christus tydens die Laaste Avondmaal gebruik het en waarin Josef van Arimatea ná Jesus se kruisiging sy bloed opgevang het. Later het hy die beker volgens legendes na die Britse eilande saamgeneem.

Wonderdadige krag word aan die Graal toegeskryf. Die beskouer van die Graal sou 'n mistieke verligting ervaar. Soms is die Graal ook as die onuitputlike bron van wonderlike geregte by 'n feesmaal uitgebeeld.

Volgens ander Middeleeuse bronne (byvoorbeeld die Duitse digter Wolfram von Eschenbach) is die Graal eerder 'n wonderdadige steen wat in die kasteel Montsalvatch ("Berg van die Verlossing") bewaar word.

  1. Sandra Miesel: The Real History of the Holy Grail. In: CatholicCulture.org

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy